Gholfnuus 14 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 8 September gewen deur Trevor Maddison met 19 punte, gevolg deur Damian Juta en Josef Botes met 18 en Gerhard Pienaar en Jaco Swanepoel met 17 punte elk.

Swanepoel het tydens Saterdag 9 September se HI-Q Riversdal geborgde dag ook die uitsonderlike prestasie behaal om op die lang 5-syfer 10e putjie ‘n albatros aan te teken wat beteken dat die bal met sy tweede hou in die blikkie beland het na meer as 480 meter! Volgens ‘n lid van die klub wat al meer as 30 jaar lid is, is dit slegs die tweede albatros wat in hierdie tydperk op die baan aangeteken word, wat ‘n aanduiding gee van die aard van hierdie besondere gebeurtenis.

Die kompetisie Saterdag was ‘n samespel stableford kompetisie, met ses pare wat met 45 punte elk behaal het. Gerhard Pienaar en Andre Olivier het volgens die uittel prosedure in die eerste plek geeindig, gevolg deur Frans Myburgh en Frikkie Jackson, Gawie en Corne von Molendorff, Koos van Rensburg en Mulder Geldenhuys, Nel Mulder en Boetie Crous, en Leon Fourie en Paul de Villiers. Dit was ‘n baie aangename en geslaagde dag en groot dank is aan Dawid Vosloo en sy span verskuldig vir die aanbieding van die dag en verskaffing van gehalte pryse.