Gholfnuus 21 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 15 September gewen deur Alrique Julies met 20 punte, gevolg deur Basie Nortje en Berto van Dyk met 19 en SP Vermaak met 18 punte.

Panorama Primere Skool het Saterdag 16 September ‘n baie geslaagde gholfdag aangebied wat goed deur 41 spelers ondersteun is. Die wenner van die individuele kompetisie was besoeker J Moos met ‘n baie goeie 40 punte, gevolg deur Kobus Louwrens met 39 punte, terwyl nog ‘n besoeker, Eldrick Hoogbaard en Ryno Stander met 38 punte ge-eindig het, gevolg deur drie spelers met 37 punte elk: Ronald Spandiel, Nel Mulder en R Timmie. Dit was ‘n baie aangename  dag en groot dank is aan die skool se organiseerders en hulle borge verskuldig vir die aanbieding van die dag en verskaffing van goeie pryse.

Die span van Riversdal het ook Saterdag die gesogte Daneel beker op Riviersonderend gewen deur met 630 die trofee teen die ander deelnemende spanne, Bredasdorp (638), Heidelberg (638), Riviersonderend (642) en Stilbaai (664) te wen. Hierdie pragtige trofee is in 1932 geskenk deur dr Pieter Daneel met die doel om gholfspelers aan te moedig om op 9-putjie bane in die Suid Kaap te speel en is dus van die oudste trofeë in die Suid Kaap.