Gholfnuus 2 November 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 27 Oktober gewen deur Nel Mulder met 20 punte, gevolg deur Andre la Cock en Basie Nortje met 19 punte, en Josef Botes en Willie Prins met 18 punte elk.

Die borgdag van Volschenk Laerskool Saterdag 28 Oktober was baie geslaagd en goed ondersteun deur 70 spelers wat in aangename weersomstandighede die gasvryheid van die skool se personeel en ondersteuners kon geniet. Baie goeie tellings is gelewer, met George Uys wat met 48 punte die dag loshande gewen het deur sy persoonlike beste telling van 12 houe beter as sy voorgee aan te teken! Hy is gevolg deur Vernon Appollis en Denzil Geldenhuys met 43 punte elk, en vier spelers met 42 punte elk: Garnet Damons, Gaffie van der Merwe, Lukas Olivier en Willie Prins. ‘n Groot woord van dank teenoor die skoolhoof en personeel vir die reelings, aanbieding, pryse en heerlike verversings wat tydens die dag geniet kon word.

Spelers moet ook kennis neem van die feit dat daar ‘n verandering in die jaarprogram is en dat die maandelikse houespel kompetisie eerskomende Saterdag 4 November in plaas van 25 November sal plaasvind. Dit sal die voorlaaste kompetisie wees om die TV wat gewen sal word na die laaste houespel kompetisie op 9 Desember.