Gholfnuus 18 Januarie 2018

‘n Groep van 20 gholfspelers uit die George omgewing het die afgelope naweek die plaaslike gholfbaan geannekseer en behoorlik amok gemaak onder die uitslae tydens die twee kompetisies Vrydag en Saterdag. Die sundowner Vrydag is gewen deur Gina Barnard van George met 22 punte, gevolg deur drie plaaslike spelers met 21 punte elk: Frans Myburgh, Alriqye Julies en Basie Nortje.

Saterdag 13 Januarie het die eerste houespel kompetisie van die jaar in baie warm en bedompige weer plaasgevind. Dit was ook die eerste van twee bene van die Le Grange beker asook die eerste van twaalf toernooie gedurende die jaar met die titel “The Race to Wembley”, waartydens Wembley Drankwinkel as borg optree vir ‘n gesogte prys aan die einde van die jaar. Ook hier het die manne van George vir die plaaslike spelers ‘n gholfles geleer met Francois Barnard wat met ‘n skitterende 62 houe vier houe voor Mark Stander met 66 houe ge-eindig het. Hulle is gevolg deur JC Swart, Rene Roos en Boetie Crous met 67 houe, en Gina Barnard (George) volgende met 68 houe.