Gholfnuus 19 Oktober 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 13 Oktober gewen deur Basie Nortje met 22 punte, gevolg deur Gerhard Pienaar, Heinrich van Wyngaard en Grove Koch met 20 punte elk.

Saterdag 14 Oktober is Gerrit du Plessis Hoërskool se gholfdag deur nagenoeg 40 spelers bygewoon wat in ‘n beterbal kompetisie teen mekaar meegeding het. Die dag is gewen deur Ryno Stander en Berto van Dyk met ‘n baie goeie 50 punte, gevolg deur Jason en Nathan Julies asook Willie en sy seun T Prins met 49 punte, Davey Roberts en Denzil Geldenhuys met 48 en Byron Goliath en Jason Heskwa met 47 punte. ‘n Groot word van dank teenoor die skoolhoof en personeel vir die reelings, aanbieding, pryse en heerlike verversings wat tydens die dag geniet kon word.

Gholfnuus 12 Oktober 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 6 Oktober gewen deur Frans Myburgh met 21 punte, gevolg deur Paul de Villiers met 20 en Albertus Swart, Willie Prins, JC Swart, Nel Mulder en Jaco Swanepoel almal met 19 punte elk.

Saterdag 8 Oktober se Boeredag was ‘n baie geslaagde en aangename dag met goeie gholf wat deur die 30 spelers gelewer is. Die dag is gewen deur SP Vermaak met 42 punte, gevolg deur Josef Botes en Grove Koch met 41 punte, Anton Swart met 39, en vyf spelers met 37 punte elk: Vernon Appollis, Werner van Niekerk, Nel Mulder, Andre la Cock en Basie Nortje. ‘n Groot word van dank teenoor die president van die klub, Anton Swart en sy span vir al die reelings, verversings en verwerkings van die vleis wat vanaf boere in die omgewing verkry is wat as borge opgetree het.

Gholfnuus 5 Oktober 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 29 September gewen deur Pieter Franklin met 22 punte, gevolg deur Werner van Niekerk met 20 en Josef Botes, Colin Sharwood en Andre la Cock met 19 punte elk.

Die Riversdal Ope oor 36 putjies het Saterdag 30 September in baie aangename weer plaasgevind en 33 spelers vanuit die Suid Kaap en omgewing het om die gesogte titel meegeding. Ivan Williams van George het met ‘n baie goeie 139 houe die titel as ope kampioen weggeraap voor Hans-Jurie Human, Ian Pautz, Ian Norgarb, Marius de Lange en plaaslike speler Mark Stander. Almal het groot lof gehad vir die goeie toestand van die baan met sy ses nuwe sandkuile en die gul ontvangs en verversings van die dames in die kombuis.

Gholfnuus 28 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 22 September gewen deur Willie Prins met 21 punte, gevolg deur Grove Koch met 19 en Josef Botes en Marco Olivier met 18 punte.

Saterdag 23 September se bonus+ kompetisie is baie goed ondersteun deur 32 spelers met Jannie Goosen wat met ‘n telling van +6 gewen het. Hy is gevolg deur Josef Botes met +5, Frans Myburgh met +4, en Garth du Preez en Henkie Olivier met ‘n telling van +3 elk.

Saterdag 30 September vind die Riversdal Ope oor 36 putjies plaas en daar word uitgesien na hoë gehalte gholf deur die beste gholfspelers uit die Suid Kaap en omgewing. Die baan is in ‘n baie goeie toestand en het ‘n nuwe baadjie aangetrek met die byvoeging van ses nuwe sandkuile. Belangstellendes is welkom om saam met die spelers te kom stap vanaf 08:00 en goeie gholf te kom waardeer. Toegang is gratis.

Gholfnuus 21 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 15 September gewen deur Alrique Julies met 20 punte, gevolg deur Basie Nortje en Berto van Dyk met 19 en SP Vermaak met 18 punte.

Panorama Primere Skool het Saterdag 16 September ‘n baie geslaagde gholfdag aangebied wat goed deur 41 spelers ondersteun is. Die wenner van die individuele kompetisie was besoeker J Moos met ‘n baie goeie 40 punte, gevolg deur Kobus Louwrens met 39 punte, terwyl nog ‘n besoeker, Eldrick Hoogbaard en Ryno Stander met 38 punte ge-eindig het, gevolg deur drie spelers met 37 punte elk: Ronald Spandiel, Nel Mulder en R Timmie. Dit was ‘n baie aangename  dag en groot dank is aan die skool se organiseerders en hulle borge verskuldig vir die aanbieding van die dag en verskaffing van goeie pryse.

Die span van Riversdal het ook Saterdag die gesogte Daneel beker op Riviersonderend gewen deur met 630 die trofee teen die ander deelnemende spanne, Bredasdorp (638), Heidelberg (638), Riviersonderend (642) en Stilbaai (664) te wen. Hierdie pragtige trofee is in 1932 geskenk deur dr Pieter Daneel met die doel om gholfspelers aan te moedig om op 9-putjie bane in die Suid Kaap te speel en is dus van die oudste trofeë in die Suid Kaap.

Gholfnuus 14 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 8 September gewen deur Trevor Maddison met 19 punte, gevolg deur Damian Juta en Josef Botes met 18 en Gerhard Pienaar en Jaco Swanepoel met 17 punte elk.

Swanepoel het tydens Saterdag 9 September se HI-Q Riversdal geborgde dag ook die uitsonderlike prestasie behaal om op die lang 5-syfer 10e putjie ‘n albatros aan te teken wat beteken dat die bal met sy tweede hou in die blikkie beland het na meer as 480 meter! Volgens ‘n lid van die klub wat al meer as 30 jaar lid is, is dit slegs die tweede albatros wat in hierdie tydperk op die baan aangeteken word, wat ‘n aanduiding gee van die aard van hierdie besondere gebeurtenis.

Die kompetisie Saterdag was ‘n samespel stableford kompetisie, met ses pare wat met 45 punte elk behaal het. Gerhard Pienaar en Andre Olivier het volgens die uittel prosedure in die eerste plek geeindig, gevolg deur Frans Myburgh en Frikkie Jackson, Gawie en Corne von Molendorff, Koos van Rensburg en Mulder Geldenhuys, Nel Mulder en Boetie Crous, en Leon Fourie en Paul de Villiers. Dit was ‘n baie aangename en geslaagde dag en groot dank is aan Dawid Vosloo en sy span verskuldig vir die aanbieding van die dag en verskaffing van gehalte pryse.