Gholfnuus 30 November 2017

Die voorlaaste  weeklikse sundowner kompetisie Vrydag  24 November is gewen deur Grove Koch met 22 punte, gevolg deur Frans Myburgh met 20 punte, Trevor Maddison en Josef Botes met 19 punte elk, en Berto van Dyk met 18 punte.  

Saterdag 25 November se individuele kompetisie is gewen deur Riaan Kasselman met ‘n uitstekende 40 punte, gevolg deur TM Stander met 38, Gerhard Pienaar met 37, en drie spelers met 36 punte elk: Denzil Gelgenhuys, Vernon Appollis en Nel Mulder.  

Eerskomende Vrydag 1 Desember vind die laaste sundowner van die jaar plaas waartydens die maandwenners ook met mekaar sal meeding om as die wenner van die jaar aangewys te word. Saterdag 2 Desember vind die finaal van die maandelikse houespel kompetisie plaas waar die wenner van die TV, geskenk deur Wembley drankwinkel, bepaal sal word.

Gholfnuus 23 November

Die weeklikse sundowner kompetisie Vrydag  17 November is gewen deur Trevor Maddison met 21 punte, gevolg deur Boetie Crous en Willie Prins met 20 punte, Basie Nortje met 19, en Keano Hendricks en Josef Botes met 18 punte.

Saterdag 18 November het die jaarlikse Lutherse Kerk se borgdag in aangename weer plaasgevind. Hierdie dag is een van die grootste dae op die gholfklub se kalender, en is deur 106 spelers bygewoon. Uitstekende tellings is in die beterbal kompetisie behaal met die eerste vyf pare almal in die vyftigs. Die dag is uiteindelik gewen deur Johan Pieters en Gary Rule met 52 punte, gevolg deur Pieter May en Garnet Damons met 51 punte, en drie pare met 50 punte elk: Randel en Israel Jansen, Charlton Sambo en Damian Juta, asook Desmond Leonard en Vincent Windvogel. Groot dank is verskuldig aan die organiseerders van die Lutherse Kerk vir al die reelings, aanbieding en pryse van ‘n baie geslaagde kompetisie.

Gholfnuus – 16 November 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie Vrydag 10 November is gewen deur Frans Myburgh met 21 punte, gevolg deur ‘n besoeker, Wonita Uys, wat SP Vermaak, Danie van der Nest en Trevor Madisson, almal met 20 punte, op ‘n uittel gewen het.

Saterdag 11 November het die finale rondte van die jaarlikse Super 9 kompetisie op die baan van die Riversdalse gholfklub plaasgevind. Die laaste van vyf kompetisies is baie goed ondersteun deur 96 spelers van klubs in die Suid Kaap wat net 9- putjie bane het: Albertinia, Boggomsbaai, Stilbaai, Ladismith en Riversdal. Die voorlopers van die kompetisie voor die aanvang van dag was Stilbaai, wat slegs een punt voor Ladismith was. Die spelers van Ladismith het egter alles in die stryd gewerp om die titel te wen en uiteindelik, tot groot vreugde van die lede, as wenners uit die stryd getree. Die wenners van die dag was egter Riversdal met 198 punte, gevolg deur Ladismith met 192 punte, Stilbaai met 189, Boggomsbaai met 172 en Albertinia met 163 punte. Beste spelers van die dag was Heinrich Esterhuise en Wikus Louwrens van Riversdal met 49 punte, gevolg deur Frans Stassen en Bennet de Wee van Ladismith met 47, met Werner van Niekerk en Frans Myburgh van Riversdal in die derde plek, ook met 47 punte. Groot dank is verskuldig aan Anton Swart van JC Slagtery wat telkens al die pryse van elke kompetisie by elk van die vyf bane geborg het.

Gholfnuus 9 November

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag  3 November maar swak bygewoon, en is gewen deur JC Swart met 21 punte, gevolg deur Paul de Villiers en Divan Calitz met 20 punte, gevolg deur Josef Botes met 17 punte.

Die maandelikse houespel kompetisie Saterdag 4 November is baie beter bygewoon en is gewen deur SP Vermaak met ‘n baie goeie 66 houe, 6 houe beter as sy voorgee! Hy is gevolg deur Muller Geldenhuys met 68 houe, en Koos van Rensburg en Ryno Stander met 69 houe. Anton Swart eindig met 70 houe in die vyfde plek. Verlede week se wenner, George Uys, was weer onder die pryswenners en ontvang ‘n spesiale prys, wat ‘n sjokolade insluit, vir sy spel op die dag.

Die wenner van die TV sal tydens die laaste houespel kompetisie van die jaar op 9 Desember bepaal en oorhandig word.

Kontak die klub by 0287133056 of 0828520464 vir enige navrae of besonderhede oor tariewe en bepalings vir die res van die jaar. Besoek ook die webwerf by www.riversdalgolfclub.co.za vir algemene inligting.  

 

Gholfnuus 2 November 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 27 Oktober gewen deur Nel Mulder met 20 punte, gevolg deur Andre la Cock en Basie Nortje met 19 punte, en Josef Botes en Willie Prins met 18 punte elk.

Die borgdag van Volschenk Laerskool Saterdag 28 Oktober was baie geslaagd en goed ondersteun deur 70 spelers wat in aangename weersomstandighede die gasvryheid van die skool se personeel en ondersteuners kon geniet. Baie goeie tellings is gelewer, met George Uys wat met 48 punte die dag loshande gewen het deur sy persoonlike beste telling van 12 houe beter as sy voorgee aan te teken! Hy is gevolg deur Vernon Appollis en Denzil Geldenhuys met 43 punte elk, en vier spelers met 42 punte elk: Garnet Damons, Gaffie van der Merwe, Lukas Olivier en Willie Prins. ‘n Groot woord van dank teenoor die skoolhoof en personeel vir die reelings, aanbieding, pryse en heerlike verversings wat tydens die dag geniet kon word.

Spelers moet ook kennis neem van die feit dat daar ‘n verandering in die jaarprogram is en dat die maandelikse houespel kompetisie eerskomende Saterdag 4 November in plaas van 25 November sal plaasvind. Dit sal die voorlaaste kompetisie wees om die TV wat gewen sal word na die laaste houespel kompetisie op 9 Desember.

Gholfnuus 26 Oktober 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 20 Oktober gewen deur Grove Koch met 19 punte, gevolg deur Keano Hendricks en Josef Botes met 16 punte elk.

Saterdag 21 Oktober se maandelikse houespel kompetisie is goed bygewoon deur lede van die klub in ‘n poging om nog punte bymekaar te maak vir die TV wat as wenprys gegee gaan word vir die speler met die meeste punte aan die einde van die jaar.  Die wenner was Damian Juta, wat Nel Mulder in ‘n uittel met 71 houe geklop het. Hulle is gevolg deur Byron Goliath en Gerhard Pienaar met 72 houe elk, en Basie Nortje en Vernon Appollis met 73 houe elk. Hiermee het Appollis ‘n sterk aanspraker op die TV geword en dit sal interessant wees om te sien hoe die laaste deel van die kompetisie sal eindig.

Gholfnuus 19 Oktober 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 13 Oktober gewen deur Basie Nortje met 22 punte, gevolg deur Gerhard Pienaar, Heinrich van Wyngaard en Grove Koch met 20 punte elk.

Saterdag 14 Oktober is Gerrit du Plessis Hoërskool se gholfdag deur nagenoeg 40 spelers bygewoon wat in ‘n beterbal kompetisie teen mekaar meegeding het. Die dag is gewen deur Ryno Stander en Berto van Dyk met ‘n baie goeie 50 punte, gevolg deur Jason en Nathan Julies asook Willie en sy seun T Prins met 49 punte, Davey Roberts en Denzil Geldenhuys met 48 en Byron Goliath en Jason Heskwa met 47 punte. ‘n Groot word van dank teenoor die skoolhoof en personeel vir die reelings, aanbieding, pryse en heerlike verversings wat tydens die dag geniet kon word.

Gholfnuus 5 Oktober 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 29 September gewen deur Pieter Franklin met 22 punte, gevolg deur Werner van Niekerk met 20 en Josef Botes, Colin Sharwood en Andre la Cock met 19 punte elk.

Die Riversdal Ope oor 36 putjies het Saterdag 30 September in baie aangename weer plaasgevind en 33 spelers vanuit die Suid Kaap en omgewing het om die gesogte titel meegeding. Ivan Williams van George het met ‘n baie goeie 139 houe die titel as ope kampioen weggeraap voor Hans-Jurie Human, Ian Pautz, Ian Norgarb, Marius de Lange en plaaslike speler Mark Stander. Almal het groot lof gehad vir die goeie toestand van die baan met sy ses nuwe sandkuile en die gul ontvangs en verversings van die dames in die kombuis.

Gholfnuus 28 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 22 September gewen deur Willie Prins met 21 punte, gevolg deur Grove Koch met 19 en Josef Botes en Marco Olivier met 18 punte.

Saterdag 23 September se bonus+ kompetisie is baie goed ondersteun deur 32 spelers met Jannie Goosen wat met ‘n telling van +6 gewen het. Hy is gevolg deur Josef Botes met +5, Frans Myburgh met +4, en Garth du Preez en Henkie Olivier met ‘n telling van +3 elk.

Saterdag 30 September vind die Riversdal Ope oor 36 putjies plaas en daar word uitgesien na hoë gehalte gholf deur die beste gholfspelers uit die Suid Kaap en omgewing. Die baan is in ‘n baie goeie toestand en het ‘n nuwe baadjie aangetrek met die byvoeging van ses nuwe sandkuile. Belangstellendes is welkom om saam met die spelers te kom stap vanaf 08:00 en goeie gholf te kom waardeer. Toegang is gratis.

Gholfnuus 21 September 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie is Vrydag 15 September gewen deur Alrique Julies met 20 punte, gevolg deur Basie Nortje en Berto van Dyk met 19 en SP Vermaak met 18 punte.

Panorama Primere Skool het Saterdag 16 September ‘n baie geslaagde gholfdag aangebied wat goed deur 41 spelers ondersteun is. Die wenner van die individuele kompetisie was besoeker J Moos met ‘n baie goeie 40 punte, gevolg deur Kobus Louwrens met 39 punte, terwyl nog ‘n besoeker, Eldrick Hoogbaard en Ryno Stander met 38 punte ge-eindig het, gevolg deur drie spelers met 37 punte elk: Ronald Spandiel, Nel Mulder en R Timmie. Dit was ‘n baie aangename  dag en groot dank is aan die skool se organiseerders en hulle borge verskuldig vir die aanbieding van die dag en verskaffing van goeie pryse.

Die span van Riversdal het ook Saterdag die gesogte Daneel beker op Riviersonderend gewen deur met 630 die trofee teen die ander deelnemende spanne, Bredasdorp (638), Heidelberg (638), Riviersonderend (642) en Stilbaai (664) te wen. Hierdie pragtige trofee is in 1932 geskenk deur dr Pieter Daneel met die doel om gholfspelers aan te moedig om op 9-putjie bane in die Suid Kaap te speel en is dus van die oudste trofeë in die Suid Kaap.