Gholfnuus 25 Januarie 2018

Tydens Vrydag 19 Januarie se sundowner byeenkoms is die spog-twee balpot, wat tot ‘n aansienlike bedrag opgehoop het nadat dit vir ‘n hele paar weke nie gewen is nie, uiteindelik gewen deur Willie Prins. Berto van Dyk het getoon dat hy met mening terug is deur die kompetisie te wen met 22 punte, gevolg deur Gerhard Pienaar en Jaco Swanepoel met 21, Leon Fourie met 20 en Josef Botes met 19 punte.

Saterdag 20 Januarie se houespel kompetisie is gewen deur Werner van Niekerk met 67 houe, gevolg deur Jannie Goosen met 68 houe, en vier spelers met 69 houe: Koos Eksteen, Josef Botes, Gawie von Molendorff en Leon Fourie. Van Niekerk het met ‘n eindpoging vorendag gekom en afgesluit met arend drie op die laaste putjie om so, na twee rondtes, gelyk te eindig met Mark Stander, verlede week se voorloper om die Le Grange beker. Die twee spelers deel dus die gesogte Le Grange beker in 2018 met ‘n totaal van 137 houe.

Die kalender vir die nuwe jaar is by die klub beskikbaar. Kontak die klub by 0287133056 of 0828520464 vir enige ander navrae of besonderhede oor tariewe en bepalings. Ons nuwe webwerf, www.riversdalgolfclub.co.za, is nou in werking en kan besoek word vir algemene inligting. Besoek ook gerus die facebook blad: Riversdal Gholfklub vir sosiale nuus en plasing van fotos en nuuswaardighede wat op die gholfklub van toepassing is.