Gholfnuus 22 Maart

NG Kerk wes gholfdag wenners

Vrydag 16 Maart se sundowner byeenkoms is gekenmerk deur relatiewe ongewoon lae tellings met Gerhard Hough wat met 21 punte die kompetisie gewen het. Hy is gevolg deur Andre Olivier met 18 punte, gevolg deur Basie Nortje, Louis Vermaak en Andre la Cock met 17 punte elk.

Saterdag 17 Maart het die groot jaarlikse gholfdag van die NG Kerk Riversdal Wes plaasgevind en is, soos gewoonlik, baie goed deur 64 gholfspelers van Riversdal en die omgewing bygewoon. Die kompetisie was ‘n vierbal spankompetisie en is gewen deur die span van Walter Diedericks, Davey Roberts, Denzil Geldenhuys en Andrew Meyer met ‘n uitstekende telling van 116 punte. Hulle is gevolg deur Bez Bezuidenhout, Wessel de Bruyn, Tos Michaels en Llwellen October met 111 punte, en Nathan Julies, JD Julies, Gawie von Molendorff en Corne von Molendorff met 103 punte. Die dag was ‘n groot sukses en al die fondse wat ingesamel is, sal ten bate van kinders aangewend word. Groot dank is verskuldig aan ds Deon Beyers en sy span vir die puik organisering en aanbieding van so ‘n groot dag met baie goeie pryse wat deur almal wat daaraan deelgeneem het, baie geniet is. Dit is voorwaar een van die gesogste borgdae op die gholfklub se kalender en spelers sien jaarliks daarna uit om by die dag betrokke te wees.   

 Klublede word herinner aan die Algemene Jaarvergadering wat Donderdag 22 Maart plaasvind waartydens die nuwe komitee verkies sal word. Lede word aangemoedig om die vergadering by te woon om sodoende insae in die finansies te kry en saam te praat oor belangrike besluite wat tydens die vergadering geneem sal word.