Gholfnuus 7 Desember

TV wenner: Vernon Appollis

Die afgelope naweek is gekenmerk deur drie finale kompetisies voor die aanbreek van die vakansie. Die laaste van die weeklikse sundowner kompetisies Vrydag 1 Desember is gewen deur Keano Hendricks met 21 punte, gevolg deur SP Vermaak ook met 21, Berto van Dyk met 20, en Manie Jardim en Alrique Julies met 19 punte elk. Vermaak is met sy 21 punte ook die sundowner kampioen van die jaar, gevolg deur van Dyk, Nel Mulder en JA (Poen) Vermaak.

Saterdag 2 Desember was die laaste houespel kompetisie van die jaar waartydens die wenner van ‘n TV, geborg deur Wembley Drankwinkel, bepaal is. Die dag se spel is gewen deur Basie Nortje met ‘n baie goeie 65 houe, gevolg deur Riaan Kasselman met 68 houe, Nel Mulder en Muller Geldenhuys met 69 houe elk, en drie spelers met 70 houe elk: Frikkie Jackson, Vernon Appollis en Koos Eksteen.  Met sy konstante spel deur die jaar tydens die houespel kompetisies het Appollis die gesogte TV gewen. Tweede in die kompetisie was Mark Stander, gevolg deur Frans Myburgh. Groot dank is verskuldig aan Werner van Niekerk van Wembley Drankwinkel met sy inisiatief om so ‘n gesogte prys vir hierdie kompetisie aan te bied.

Die finaal van die gesogte John Bowen houespel kompetisie het ook terselfdertyd Saterdag 2 Desember plaasgevind. Vernon Appollis en Marco Olivier het na ‘n reeks uitdunrondtes na die finale rondte deurgedring waar Appollis as wenner uit die stryd getree het. 

Eerskomende naweek 8 en 9 Desember vind die Kaptein vs President kompetisie plaas waartydens die twee spanne teen mekaar sal meeding in ‘n kompetisie soortgelyk aan die van die Ryder Cup. Vrydag 8 Desember sal die spanne oor 9 putjies kompeteer, terwyl Saterdag 9 Desember oor 36 putjies gekompeteer sal word. Spanne sal Donderdag 7 Desember tydens ‘n funksie by die klub bekend gemaak word. Kontak die klub vir verdere besonderhede.