Gholfnuus – 16 November 2017

Die weeklikse sundowner kompetisie Vrydag 10 November is gewen deur Frans Myburgh met 21 punte, gevolg deur ‘n besoeker, Wonita Uys, wat SP Vermaak, Danie van der Nest en Trevor Madisson, almal met 20 punte, op ‘n uittel gewen het.

Saterdag 11 November het die finale rondte van die jaarlikse Super 9 kompetisie op die baan van die Riversdalse gholfklub plaasgevind. Die laaste van vyf kompetisies is baie goed ondersteun deur 96 spelers van klubs in die Suid Kaap wat net 9- putjie bane het: Albertinia, Boggomsbaai, Stilbaai, Ladismith en Riversdal. Die voorlopers van die kompetisie voor die aanvang van dag was Stilbaai, wat slegs een punt voor Ladismith was. Die spelers van Ladismith het egter alles in die stryd gewerp om die titel te wen en uiteindelik, tot groot vreugde van die lede, as wenners uit die stryd getree. Die wenners van die dag was egter Riversdal met 198 punte, gevolg deur Ladismith met 192 punte, Stilbaai met 189, Boggomsbaai met 172 en Albertinia met 163 punte. Beste spelers van die dag was Heinrich Esterhuise en Wikus Louwrens van Riversdal met 49 punte, gevolg deur Frans Stassen en Bennet de Wee van Ladismith met 47, met Werner van Niekerk en Frans Myburgh van Riversdal in die derde plek, ook met 47 punte. Groot dank is verskuldig aan Anton Swart van JC Slagtery wat telkens al die pryse van elke kompetisie by elk van die vyf bane geborg het.